PDF Print E-mail

“DANKBAAR”

Dit was die woord wat eerste in GERT MEYER FERREIRA se gedagte gekom het toe hy as jong man sy voet op die stuk grond gesit het.

 

Hy is gebore op 23 November 1904 in die distrik van Willowmore en het op 24 jarige ouderdom as plaasvoorman op ‘n plaas in Kwagga begin werk, in die buitewyke van Patensie.

 

Hy en LOUZETTA THEODORA RENS, gebore 23 Januarie 1906, tree in die huwelik op 28 November 1933. Sy was ‘n meisie van die plaas Vensterhoek in die Vallei.

 

Omdat hulle altyd daarna gestreef het om hulle eie grond te besit, gryp hulle die geleentheid aan toe hulle hoor van die onbewerkte plaas naby Patensie wat te huur is. Met bykans geen kapitaal of plaas gereedskap, maar met baie moed en werks ywer, en met die hulp van een plaaswerker naamblik Nero, begin hulle die grond ontbos om landerye te maak. Die rooigrond van die vallei is vrugbaar, die Heer se genade groot en hy was geseënd met baie goeie oeste. Binne drie jaar was hy in die vermoë om die plaas te koop, die prys 1800 pond. Hy is te perd na Elandsrivier om die aanbod aan die Wehmeyers te gaan voorlê, die aandbod is aanvaar, ‘n dankbare man het dieselfde dag teruggekeer om die goeie nuus aan sy vrou te vertel. Daar is nie baie redeneer oor ‘n naam vir die plaas nie – DANKBAAR.

 

Ses kinders is uit die huwelik gebore – drie seuns en drie dogters:

 

 

ANTOINETTA MARIA 21 OCTOBER 1936
JOHANNES THEODORUS RETIEF 5 AUGUST 1938
ALBRECHT RENS 22 JANUARY 1941
GERT MEYER 30 AUGUST 1942
CHRISTINA JOHANNA 28 NOVEMBER 1945
MAGRIETA LOUISA 22 JUNE 1948

 

 

Met vyf kinders in die huis raak die spasie in die ou huis te klein. Laat in 1945 begin bou hulle ‘n nuwe huis net ‘n 100 meter van die ou huis. Die meester bouer in daardie jare was Barry Verwey en hy was dan ook die bouer van die huis.


Dit was net nadat vrede verklaar is na die tweede wêreld oorlog en boumateriaal en ander middele was skaars, soms onbekombaar. Stene vir die huis is met die hand in steen vorms op die plaas vervaardig en in ‘n steenoond met hout gebak. September 1946 is die huis voltooi en daar word ingetrek, en die ou huis word in ‘n skuur verander.


Die sesde kind is in 1948 in die nuwe huis gebore. Die gesin van agt het hier gewoon en baie lied en leed gedeel, en al ses kinders is uit die huis getroud.


Dit was vroeg die oggend van 30 Julie 1968 dat Gert Ferreira skielik aan ‘n hartaanval oorlede is. Hierna het Louzetta nog vir ‘n paar jaar in die huis aangebly en is in 1972 na Humansdorp, waar sy gewoon het totdat sy op 12 April 1978 oorlede is.


Die oudste seun, Jannie, het DANKBAAR geërf en het die huis verhuur totdat sy seun, Retief, die huidige boer op DANKBAAR, plaas toe gekom het. Retief is getroud met Adi-Mari Schoeman, en sy het die inisïatief aan die dag gelê om die kosbare huis in ‘n gastehuis te omskep. In 2004 begin sy met groot entoesiasme woel en werkskaf, en sonder om die karakter van die huis te skend, slaag sy daarin om dit in ‘n huislike huis vir gaste te omskep.


Die vyf oorlewende kinders is dankbaar dat DANKBAAR se huis vir die nageslag behoue sal bly:


“Ons weet dat dit, wat Gert en Louzetta met soveel ywer opgebou het, vir die nageslag verewig is en daarvoor is ons almal DANKBAAR”.


Gekryf deur: Christa Kemp (née Ferreira)